Mia Farrow

Mia Farrow
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Farrow in 2018

Geboortenaam Maria de Lourdes Villiers Farrow
Geboorte 9 Februarie 1945 (1945-02-09)
Los Angeles, Kalifornië, VSA
Nasionaliteit Amerikaans
Lewensmaat
Kinders 14
Beroep(e) Aktrise, aktivis
Aktiewe jare 1959-tans
Rolprente Rosemary's Baby
Toekennings Golden Globe vir Guns at Batasi
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Maria de Lourdes Villiers Farrow (gebore 9 Februarie 1945) is 'n Amerikaanse aktrise. Sy het die eerste keer aandag getrek met haar rol as Allison MacKenzie in die sepie Peyton Place en haar daaropvolgende kort huwelik met Frank Sinatra. Vir haar vroeë rolprentrol as Rosemary in Roman Polanski se rolprent Rosemary's Baby (1968) is sy benoem vir 'n Bafta en Golden Globe. Sy het in die 1970's in nog verskeie rolprente verskyn, soos Follow Me! (1972), The Great Gatsby (1974) en Death on the Nile (1978).

Farrow was van 1980 tot 1992 in 'n verhouding met die akteur-regisseur Woody Allen en het in dié tydperk in 13 van sy rolprente verskyn; die eerste een was A Midsummer Night's Sex Comedy (1982). Sy is verskeie kere groot lof toegeswaai vir haar rolle in Allen-prente, en is vir Golden Globes benoem vir Broadway Danny Rose (1984), The Purple Rose of Cairo (1985) en Alice (1990). Sy het ook gespeel in Hannah and Her Sisters (1986), Crimes and Misdemeanors (1989) en Husbands and Wives (1992). In 1992 het Farrow Allen in die openbaar daarvan beskuldig dat hy hulle aangenome dogter, Dylan Farrow, seksueel misbruik. Allen is nooit aangekla nie en het die aantygings ten sterkste ontken.

Sedert die 2000's het Farrow in 'n paar televisierolle verskyn, onder meer 'n herhalende rol in Third Watch (2001-2003). Sy het ook byrolle gehad in rolrpente soos The Omen (2006), Be Kind Rewind (2008) en Dark Horse (2011), sowel as die Netflix-reeks The Watcher (2022).

Farrow is ook bekend vir haar omvattende werk as Unicef-ambassadeur. Sy is betrokke by humanitêre aktiwiteite in Darfoer, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. In 2008 het die tydskrif Time haar aangewys as een van die invloedrykste mense in die wêreld.[1]

  1. Rusesabagina, Paul (12 Mei 2008). "Heroes & Pioneers: Mia Farrow". Time. Besoek op 6 Oktober 2014.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search